By Hanlie Stadler
Baie Suid-Afrikaners kan reeds nie genoeg kos bekostig nie; beurtkrag vererger hul nood.
Beurtkrag is besig om Suid-Afrikaners baie duur te staan te kom.
In ’n onlangse peiling deur Debt Rescue het ’n skokkende 93% van die respondente gesê
hulle moes al kos weggooi wat bederf het terwyl yskaste afgeskakel was.
Daarby moes 38% al ’n nuwe yskas aanskaf weens die skade wat beurtkrag aangerig het.
Dis baie kommerwekkende syfers, sê Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, in die
lig daarvan dat 41% van Suid-Afrikaners sê hulle kan nie meer genoeg kos vir hul gesinne
bekostig nie.
Suid-Afrika het nou al 18 opeenvolgende dae beurtkrag, die afgelope drie dae ononderbroke
op fase 3 en 4 – en daar is geen einde in sig nie. Daar was vanjaar al 138 dae met beurtkrag
uit 299 dae (albei syfers sluit Woensdag in), dus meer as 46% van die getal dae.
2022 is lank reeds die jaar met die ergste beurtkrag tot nog toe. In die eerste ses maande
van die jaar het Eskom 2 276 GWh krag besnoei, meer as 90% van die 2 521 GWh wat in die
hele 2021 weens beurtkrag afgeskakel was – en dit was voor die beurtkrag tot fase 6 wat die
afglope vier maande ingestel is.
Agri SA het reeds in September gewaarsku die produksie van kos word bedreig omdat boere
nie kan besproei nie of bloot uit onsekerheid oor beurtkrag minder aanplant.
Die Debt Rescue-peiling wys ook op die sielkundige uitwerking van beurtkrag, met 67% van
Suid-Afrikaners wat emosionele druk beleef. Die redes daarvoor sluit in vrees vir hul
veiligheid omdat alarmstelsels ingee (67%) en die spanning oor finansiële probleme
wanneer huishoudelike toestelle soos televisies skade opdoen.
Daar is ook mense wat vrees dat hulle hul werk gaan verloor weens die invloed van
beurtkrag op ondernemings. Nie alle winkels kan kragopwekkers bekostig nie.
“Tydens beurtkrag is ’n groot persentasie mense sonder basiese behoeftes soos lopende
water, verhitting en ligte. Benewens kos wat sleg word, kan water nie uit reservoirs gepomp
word of verhit word om te drink of te bad nie, en daar is toenemende veiligheidsrisiko’s as
daar nie krag is om huis- of straatligte aan te hou nie.
“Met dié dat baie mense vergeet om toestelle af te skakel tydens beurtkrag, kan toestelle
wat aan was, kortsluitings en skade veroorsaak, om nie eens te praat van die onnodige
vermorsing van krag nie.
“Dis altyd ons as burgers wat aan die kortste ent trek.”
Hy sê Peter Attard Montalto, die Intellidex-ontleder, waarsku dat beurtkrag oor die
volgende paar maande dalk erger gaan word, tot fase 8.
“Dis duidelik dat beurtkrag nou een van die grootste bedreigings vir die lewe en
lewensmiddele van Suid-Afrikaners is. Dis nie goed genoeg dat mense net gewaarsku word
dat dit nog maande lank gaan voortduur nie. Hoe moet mense oorleef wat reeds onder die
armoedegrens leef, gegewe die finansiële implikasies van konstante kragonderbrekings?”
Roets vrees dat baie mense meer skuld sal aangaan en in ’n strik gaan beland waaruit hulle
nie kan kom nie.
Om dinge te vererger vir mense wat tot dié stap oorgaan, word ’n groot
rentekoersverhoging weer in November verwag.
Roets moedig mense aan om versigtig te wees vir skuld en indien hulle reeds deur skuld
oorweldig is, so gou as moontlik hulp te kry by ’n skuldberadingsfirma.
Om meer te lees gaan na: https://bit.ly/druklaaiop-peiling