Groot styging in brandstofpryse in September verwag

Tensy internasionale oliepryse oor die volgende drie weke daal, lê ’n stewige styging in brandstofpryse in September voor.

Al hoe meer motoriste koop kleiner, meer brandstofdoeltreffende motors omdat hulle nie meer
hul motorpaaiement kan bekostig nie.

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, sê hy is bekommerd dat
“genadelose finansiële druk”, insluitend die jongste styging in die brandstofpryse, meer mense
in die posisie gaan plaas waarin hulle nie hul skuld kan bekostig nie.

Petrol het in Augustus 27c per liter duurder geword en diesel met tot 72c per liter.

Die prys van 95-oktaan-petrol in Gauteng is wel R2,59 per liter goedkoper as in Augustus 2022,
en R2,66 per liter aan die kus. Diesel met 0,05% swael is R5,21 per liter goedkoper in Gauteng
en R4,39 per liter goedkoper aan die kus.

Hoewel sowel petrol as diesel vir die jaar tot dusver goedkoper geword het – en ook aansienlik
goedkoper is as ’n jaar gelede – vrees Roets dat die styging te midde van hemelhoë
kosprysinflasie en die kumulatiewe uitwerking van stygende rentekoerse dalk die laaste druppel
is wat die emmer sal laat oorloop.

Daarby is daar volgens die Sentrale Energiefonds se jongste daaglikse syfers ’n reuse-styging in
brandstofpryse in September op pad. As pryse vandag vasgestel moes word, sou petrol R1,13
per liter duurder word en diesel R2,43 per liter duurder.

Daar bly egter nog meer as drie weke oor waarin die koste van brandstof op die internasionale
markte tesame met die rand-dollar-wisselkoers dié syfer sal laat skommel.

Die oorsigmaand vir September se brandstofpryse is van 28 Julie tot 31 Augustus, en die pryse
word op 6 September aangepas.

“ ’n Motor is een van die beleggings waarsonder baie mense nie kan klaarkom nie – dit verskaf
beweeglikheid, gerief en ’n doeltreffende en veilige vervoeropsie vir veral gesinne,” sê Roets.

Rainer Gottschick, uitvoerende hoof vir kleinhandel en verhuring by die motorverkoopsfirma
Motus, sê hulle merk ook op dat mense kleiner voertuie of minder bekende handelsname koop
te midde van hoë inflasie en hoë rentekoerse.

Iemand wat ’n klein, nuwe intreevlakmotor van sowat R170 000 twee jaar gelede gekoop het,
toe die prima rentekoers van banke 7% was, sou ’n paaiement van R2 898 oor ses jaar moes opdok. Dit het intussen met R403 per maand tot R3 301 gestyg soos wat die rentekoers met
4,75 persentasiepunte verhoog is.

Die paaiement van iemand wat voor November 2021 se eerste rentekoersstyging ’n luukse
voertuig van R1,2 miljoen teen prima gefinansier het, het van R20 459 tot R23 305, ’n styging
van R2 846 per maand, toegeneem.

Mense wag ook langer voordat hulle hul voertuie vervang, sê Gottschick.

Volgens die Nasionale Kredietreguleerder is voertuie van R41,82 miljard in die eerste kwartaal
van 2023 gefinansier, 7,4% minder as ’n jaar gelede. Dit was vir 115 699 voertuie, ook 7,4%
minder as ’n jaar gelede.

Die gemiddelde waarde van voertuie wat gefinansier is, beloop dus R361 428, wat 5,9% meer is
as die gemiddeld vir die eerste kwartaal van 2022.

Vir mense op soek na billiker geprysde motors is daar slegte nuus: Goeie gebruikte motors word
skaarser.

Stephen de Blanche, inkomstehoof van TransUnion Africa, sê in 2022 is gemiddeld 29 267
gebruikte voertuie per maand met finansiering gekoop. Vanjaar is dit veel laer op gemiddeld 26 161. “Die daling is die gevolg van ’n enorme tekort aan goeie gebruikte voertuie, tesame met ’n
skerp styging in pryse.

Volgens TransUnion se indeks is gebruikte motors nou 9,8% duurder as ’n jaar gelede – ’n baie
skerper styging as die gemiddelde inflasiekoers van 5,4%.

De Blanche sê histories is sowat 40% van die gebruikte motors wat gefinansier word minder as
twee jaar oud. Dit het nou tot net 20% geval.

TransUnion se syfers wys dat meer mense nou die moontlikheid ondersoek om motors te huur
eerder as om ’n langtermyn-koopkontrak aan te gaan.

In die eerste kwartaal van 2023 was daar ’n 4%-styging in die aantal motoriste wat nie hul
motorskuld kon betaal nie.

“Al hoe meer mense oor die inkomstespektrum heen wanbetaal aan hul skuld,” sê Roets.

Hy sê mense moet by hul kredietverskaffer of by ’n skuldberadingsfirma aanklop voordat
regstappe teen hulle gedoen word.

Like
Like Love Haha Wow Sad Angry

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Did you know?

You can start your application process already. Simply download your assessment or fill in our online application and get one step closer to becoming debt-free with Debt Rescue!

Subscribe to Our Weekly Email

By completing this form, you are providing Debt Rescue with the above personal information and acknowledge the terms of Debt Rescue’s Privacy Notice.