Diegene wat beplan om geld te spandeer en hul geliefdes op Valentynsdag te bederf, word versoek om versigtig te wees vir verhoogde pryse vir geskenke. Laaste-minuut-aankope sal na verwagting kleinhandelverkope verhoog, aangesien sommige verbruikers skarrel om bederf-items te koop om vandag ekstra spesiaal te maak. Die hoof-uitvoerende beampte van Debt Rescue, Neil Roets, sê dat mense nie in ‘n skuldstrik gevang moet word vir Vaentynsdag nie. Hy raai verbruikers aan om binne hul perke te spandeer.
Intussen, word mense wat eensaam is en hoog en droog by die huis gaan wees sonder ‘n afspraak, gewaarsku om te waak teen liefdesdiewe wat tegnologie aanwend om mense te bedrieg. Maroela Media berig daar is vele voorvalle van swendelaars wat afspraakplatforms en sosiale media gebruik om eensames uit te buit. Sulke aanlyn gesprekke lei uiteindelik tot finansiële uitbuiting.
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum waarsku dat valse profiele gewoonlik te goed is om waar te wees. Mense wat hulself tot ‘n aanlyn verhouding wil verbind, word aangeraai om die onsigbare persoon se identiteit noukeurig te ondersoek. Moet ook nooit sensitiewe inligting soos bank besonderhede en wagwoorde verskaf nie.