Deur: William Horne
Te midde van ‘n “perfekte storm” wat dreig in die ekonomie, moet Suid-Afrikaners maar gewoond raak aan die “moeilike waarheid” dat 2023 nie daardie verligting gaan inhou waarop hulle hoop nie.
Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, draai in ‘n verklaring nie doekies om oor Suid-Afrikaners se voorland nie.
“Verbruikers gaan die nuwe jaar in in ‘n baie swakker finansiële posisie as ‘n jaar gelede en dit gaan nie binnekort makliker word nie,” maan Roets.
“Hoewl daar byvoorbeeld hier middel Desember aangekondig is inflasie het ‘afgekoel’, was pryse op die winkelrakke steeds baie hoër as die gemiddeld wat mense kan bekostig.
“Rentekoerse, brandstofpryse, oënskynlik steeds stygende elektrisiteitpryse vir ‘n diens wat ons net omtrent die helfte van die tyd het namate Eskom se ineenstorting voortduur, groei teen ‘n veel vinniger koers as die gemiddelde salaris in die land. Dit beteken net een ding: Suid-Afrikaners word maand ná maand armer terwyl lewenskoste styg.”
Roets sȇ om die harde feite te erken is nie pessimisties nie. Dit is eerder noodsaaklik sodat die land nie deur ‘n skuldkatastrofe in die gesig gestaar word nie.
Mense moet ook nie staatmaak op die politici nie – volgens Roets is hulle te “selfbehep” om in te gryp.
Al wat politici werklik doen vir Suid-Afrika, is om die land “in die voet te skiet”, sȇ Roets.
Debt Rescue meen Statistieke Suid-Afrika se inflasiemandjie weerspieël ook nie die werklike pyn van verbruikers nie. Volgens die maatskappy is dit duidelik dat prysstygings wegholvlakke bereik het.
Een voorbeeld is mieliemeel wat in November verlede jaar R15,68 vir 2,5kg gekos het. Die produk het in November van-jaar amptelik R34.08 gekos. “Die prys het verdubbel – laat dit vir ‘n minuut insink. Dit is die prys wat verbruikers betaal vir die perfekte storm wat 2022 was – en dit is nog net die begin.”
Hoë rentekoerse, inflasie, swak opbrengste op aandelemarkte, die verswakkende wisselkoers en dies meer sal voortduur as hoofdrywers van moeilike ekonomiese omstandighede, sȇ Roets.