RENTEKOERS BLY ONVERANDERD

Verlaging kom dalk eers later

Hanlie Stadler

Eers het ekonome verwag dat die rentekoers in Maart vanjaar verlaag gaan word, toe in Mei, toe in Julie. Na die Reserwebank se besluit gister om die rentekoers onveranderd te hou, begin twyfel insluip of mense met skuld vanjaar nog verligting gaan kry.

Hoewel die Reserwebank sélf steeds voorsien dat die rentekoers vanjaar gaan daal, is daar nou ekonome wat nie meer so seker oor hul saak is nie.

Gegewe stygende inflasie en die risiko dat die rand in aanloop tot die verkiesing kan styg, sê Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB: “Hoewel ons vir laer rentekoerse in die tweede helfte van 2024 kan hoop, moet ‘n mate van omsigtigheid behou word. Die eindelike siklus van verlagings gaan waarskynlik vlak wees.”

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het in Pretoria aangekondig die rentekoers word vir die vyfde agtereenvolgende sitting van die monetêre-beleidskomitee (MBK) onveranderd gehou.

Die vyf lede van die MBK was eenparig in hul besluit, wat beteken die prima uitleenkoers van banke bly 11,75%. Die bank se kwartaallikse voorspellingsmodel – waarin huidige data ingevoer word – dui daarop dat daar vanjaar rentekoers verlagings van altesame 50 basispunte sal wees.

Einde verlede jaar het sommige ekonome nog voorspel dat die rentekoers vanjaar met tot 100 basispunte verlaag gaan word, maar namate die tyd aanstap – en inflasie weer begin styg het – is dit tot 75 basispunte verminder. Nou lyk dit asof selfs dié verwagting gaan nie realiseer nie.

Die volgende vergadering van die MBK is in die verkiesings tyd, met die rentekoers aankondiging wat op 30 Mei gedoen word.

Kganyago het in antwoord op vrae gesê die MBK datums is vasgemaak lank voordat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het stemdag is 29 Mei, ‘n openba-re vakansiedag. Om die MBK besluit te skuif sou volgens hom geen verskil aan ekonomiese veranderlikes maak nie.

Hoewel die verkiesing afgehandel sal wees, sal die uitslag nog nie bekend wees wanneer die MBK sy besluit aankondig nie.

Die groot vrees is maar dat die rand in aanloop tot die verkiesing en ná die uitreiking van die uitslae wisselvallig sal wees, met ‘n gepaardgaande impak op inflasiekoerse.

Matikinca-Ngwenya sê die rand sal versterk en druk op inflasie verlig as ‘n “hervormings-vriendelike” uitkoms behaal word, maar sy dui nie aan wat sy reken dit sou behels nie.

Indien die ANC nie ‘n vol-strekte meerderheid behaal nie en ‘n koalisie moet vorm, kan dit die inwerkingstelling van beleid vertraag.

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, sê die druk op werkende Suid-Afrikaners “is die grootste rooi vlag op die oomblik omdat besteebare inkomste nie tred hou met inflasie nie”. Hy is gefrustreerd dat die Reserwebank nie die rentekoers verlaag het nie.

‘n Peiling deur die datafirma NIQ het onlangs bevind 55% van Suid-Afrikaners het net genoeg geld vir kos, behuising en basiese benodigdhede, terwyl Statistieke Suid-Afrika dié week bevind het 26,5% van huishoudings beskryf hulself as arm of baie arm.

Kganyago verwag dat groot ekonomiee langer sal wag om hul rentekoerse te verlaag. Dis veral waar in Amerika omdat inflasie hoog bly, maar die rentekoers nie werkskepping aan bande lê nie.

In vraetyd het Kganyago gesê die Reserwebank “volg” of wag nie vir die Federale Reserweraad (Fed) om rentekoerse te verlaag nie, maar hou dop wat dié sentrale bank doen omdat dit so ‘n enorme impak op ontwikkelende lande het.

Kosprysinflasie is ook op ‘n “kritieke kruispad”, sê Kganyago. Hy het verwys na die droë, warm weer tydens die saai- en ontkiemingstyd in groot dele van die land.

Hy verwag dat inflasie eers teen einde 2025 die middelpunt van die Reserwebank se teikenband (dus 4,5%) gaan haal. Dit beteken dat rentekoerse eers later verlaag gaan word as wat voorheen gereken is.

Die gemiddelde inflasiekoers wat nou vir 2024 verwag word, is 5,1%, eftens hoer as die 5% wat in Januarie verwag is.

Suid-Afrika se inflasiekoers het in Februarie die tweede agtereenvolgende maand gestyg, tot 5,6%, hoewel kosprysinflasie vir eers getaan het tot 6,1% (van die onlangse boonste draaipunt van 14% in Maart 2023, die hoogste sedert 2008).

Wat ekonomiese groei betref, verwag die Reserwebank steeds 1,2% vir 2024, maar vir 2025 word 1,6% nou verwag, teenoor 1,3% in Januarie.

Kganyago sê beurtkrag het steeds ‘n impak op ekonomiese groei, maar die impak is vanjaar kleiner, sowat 0,6 van ‘n persentasiepunt. Dis teenoor 1,5 persentasiepunte verlede jaar. In 2025 gaan die impak 0,2 van ‘n persentasiepunt wees.

Dit beteken sonder beurtkrag sou die ekonomie vanjaar met 1,8% kon gegroei het.

Gevra of dit ‘n moeilike rentekoersbesluit was, het Kganyago gesê daar is drie MBK-lede met ‘n PhD graad en elkeen bring twee sienings na die tafel. Daar is dus altyd ‘n baie vurige debat waarin die stand van die ekonomie van alle kante bespreek word.

Like
Like Love Haha Wow Sad Angry

Thank you!

We look forward to the opportunity to get you debt-free!

Did you know?

You can start your application process already. Simply download your assessment or fill in our online application and get one step closer to becoming debt-free with Debt Rescue!

Subscribe to Our Weekly Email

By completing this form, you are providing Debt Rescue with the above personal information and acknowledge the terms of Debt Rescue’s Privacy Notice.