Geskryf deur Hanlie Stadler
Verligting vir mense met skuld is nie die Reserwebank se eerste prioriteit nie, wel om inflasie te probeer bedwing.
Pleidooie dat die rentekoers verlaag word om mense met skuld ’n effense blaaskans te gee, gaan nog lank op dowe ore val. Sommige ekonome lees tussen die lyne van Donderdag se rentekoersaankondiging dat die rentekoers dalk eers laat in 2024 verlaag sal word.
Ander reken dit kan dalk so gou as in Mei 2024, dus oor sewe maande, gebeur. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het die rentekoers, soos in Julie, onveranderd gehou ná tien agtereenvolgende verhogings. Hy het egter verskeie risiko’s vir inflasie uitgelig wat dit onwaarskynlik maak dat die rentekoers verlaag sal kan word.
Dit sluit in die skerp styging in internasionale oliepryse, die verswakking van die rand en die droogte wat in verskeie wêrelddele weens die El Niño-weerverskynsel verwag word en kospryse kan opdruk. Daarby skep voortslepende beurtkrag, die agteruitgang van infrastruktuur en hoë staatskuld plaaslik risiko’s wat ’n meer akkommoderende monetêre beleid onwaarskynlik maak.
Gevra wanneer mense met skuld verligting kan verwag in die vorm van laer rentekoerse, het Kganyago gesê ’n mens kan net sowel vra wanneer spaarders ’n hoër opbrengs kan verwag, “maar die fokus is nie op wat leners of spaarders wil hê nie, maar die haal van prysstabiliteit”. Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, is van mening dat die rentekoersverhoging in Mei die laaste een vir dié stygsiklus was.
Al verwag sy nie dat die rentekoers weer verhoog gaan word nie, verwag Matikinca-
Ngwenya egter ook nie dat dit binnekort verlaag gaan word nie.
Sy verwag dat die rentekoers vir verskeie kwartale onveranderd sal bly voordat dit effens verlaag word. Dit sal hoër bly as wat dit voor die Covid-19-pandemie was. Die rentekoers is tydens die pandemie met 3 persentasiepunte verlaag, maar is intussen met 4,75 persentasiepunte verhoog.
Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, verwag ook dat die rentekoers eers laat in 2024 verlaag sal word. Die Nedbank-ekonome Liandra da Silva en Nicky Weimar verwag egter dat dit so gou as die tweede kwartaal van 2024 kan plaasvind.
Hulle verwag boonop dat die rentekoers in 2024 met ’n volle persentasiepunt verlaag gaan word. Dit sal die prima rentekoers van banke op 10,75% te staan bring. Nedbank verwag geen verdere rentekoersverhoging nie.
“Kleinhandelverkope wat daal, die vraag na krediet wat verlangsaam en agterstallige skuld aan huishoudings wat toeneem, dui daarop dat die monetêrebeleidskomitee (MBK) genoeg gedoen het om te verseker dat inflasie tot die middelpunt van die teikenband terugkeer. Daarom voorspel ons geen verdere rentekoersverhogings vanjaar nie.” Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments, verwag ook dat die rentekoers in Mei 2024 verlaag sal word.
Matikinca-Ngwenya wys daarop dat sowel inflasie as inflasieverwagtinge gedaal het. Inflasieverwagtinge word kwartaalliks deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) van die Universiteit Stellenbosch gemeet. In die derde kwartaal het dit die eerste keer in twee jaar gedaal – sakelui en vakbonde verwag nou inflasie sal vanjaar gemiddeld 6,1% wees, teenoor die tweede kwartaal se verwagting van 6,5%.
Kganyago het egter Donderdag gesê dit is nie goed genoeg nie – verwagtinge moet op 4,5% geanker word, wat die middelpunt van die Reserwebank se teikenband vir inflasie is. Packirisamy sê die feit dat die vyf lede van die MBK nie eenstemmig was nie, dui op “voortslepende vrees dat inflasiedruk weer sal oplaai of uitkring”.
“Kganyago het opgemerk hoewel hulle gelukkig is met die rigting van inflasie is hulle minder gelukkig oor die pas waarteen inflasie verlangsaam.” Kganyago het inderdaad gewaarsku dat die MBK gereed is om die rentekoers te verhoog sou ekonomiese data dit in die volgende paar maande regverdig. Kganyago het opgemerk hoewel hulle gelukkig is met die rigting van inflasie is hulle minder gelukkig oor die pas waarteen inflasie verlangsaam.
Sanisha Packirisamy, ekonoom
Sedert die vorige MBK-vergadering, in Julie, het die prys van Brent-ruolie met 18% opgeskiet, terwyl die rand met 5,6% teenoor die dollar verswak het.
Die Reserwebank verwys gereeld na probleme wat deur die regering opgelos moet word, maar ’n groter mate van frustrasie blyk uit die jongste verklaring: “Sedert vroeg in 2022 het die MBK bykomende maniere aanbeveel om inflasie te verlaag wat binne die bereik van die openbare sektor is, insluitend dat ’n versigtige vlak van staatskuld behaal word, die kragvoorraad verhoog word, die styging in geadministreerde pryse in toom gehou word, en dat werklike stygings in lone in pas gehou word met stygings in produktiwiteit.
“Sodanige stappe sal die doeltreffendheid van monetêre beleid en die oordrag daarvan na die breër ekonomie versterk.” Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, sê die feit dat die rentekoers nou twee keer onveranderd gelaat word, help verbruikers nie veel nie.
Weens die skerp verhogings in die rentekoers het baie mense al vasgebrand met huis- en motorpaaiemente “en ons sal waarskynlik meer wanbetalings sien in die maande wat kom, ook op banklenings en kredietgeriewe.” Hy sê die styging in lewenskoste het die aansoek om krediet laat styg, selfs te midde van die hoogste rentekoerse sedert 2008, en dit gaan verreikende gevolge hê.
Roets doen ’n beroep op supermarkte om kospryse te verlaag, met verwysing na die onlangse verslag van die Mededingingskommissie dat plaaslike winkelgroepe groter winsgrense het as dié elders ter wêreld. Dit kan help om die druk op verbruikers te verlig, wat al hoe dieper in die skuld is, volgens dié skuldberadingsfirma. Die nood is hoog, “twee derdes van Suid-Afrikaners sukkel om genoeg kos op die tafel te sit om hul gesinne te voed. Kos is nie ’n luukse nie – dis noodsaaklik om mense aan die lewe te hou.”
• Die Reserwebank het sy verwagting vir ekonomiese groei vir 2023 verhoog, van 0,4% wat
in Julie voorspel is tot 0,7%. Die verwagting vir 2024 en 2025 is onveranderd gehou op 1%
en 1,1%.
• Die verwagting vir inflasie word effens verlaag tot 5,9% vir 2023, teenoor die 6% wat in
Julie voorspel is.
Vir 2024 word die inflasieverwagting tot 5,1% verhoog, teenoor 5% wat in Julie voorspel is.
Die voorspelling vir 2025 word onveranderd op 4,5% gelaat.